9 Wenke Om Gelukkige Kruie in Potte te Kweek

clay pots are great for growing herbs

Om kruie in potte te kweek is ongelooflik maklik en ook sommer baie produktief. Die meeste kruie aard besonders goed in potte. Doen net die basiese dinge hieronder reg en ek kan jou waarborg dat jy suksesvol sal wees.

1. Moenie dit oordoen nie. Hou jou poging hanteerbaar deur te fokus op alledaagse bruikbare kruie. Die “Manjifieke Sewe” is almal maklik om te kweek en hulle kan in ‘n verskeidenheid geregte gebruik word. Daarbenewens het hulle almal ook medisinale gebruike. Hulle is: basiliekruid, grasuie, kruisement, oreganum, pietersielie, roosmaryn en tiemie. En as jy hou van geurige kruie, oorweeg gerus laventel of sitroenkruid.

2. Kies ‘n lekker sonnige plekkie vir jou kruie potte. Direkte sonlig sal jou kruie se smaak en voedingswaarde verbeter. Daarbenewens verhoog dit hulle immuniteit wat hulle minder vatbaar vir plae en siektes maak. Dit hoef nie heeldag volson te wees nie. Kruie in potte doen inderwaarheid beter wanneer hulle ‘n bietjie skaduwee kry. Kies ‘n plekkie wat elke dag ten minste twee ure direkte sonlig kry.

3. Kies lekker diep potte (ten minste 30cm diep) en maak seker dat daar voldoende dreineringsgate is. Moenie soos ouma maak en die gate met klippies bedek nie. Dit belemmer die dreinering meer as wat dit dit aanhelp. As jy bekommerd is dat die potgrond gaan uitlek kan jy die gaatjies met  ‘n stukkie sykous of koerantpapier bedek.

4. Gebruik die beste potgrond wat jy in die hande kan kry. Vra jou plaaslike tuinsentrum vir ‘n aanbeveling.

5. Jy kan met saad of steggies begin maar dit is ‘n lang en tydrowende proses. En as jy nie groen vingers het nie is daar baie slaggate. Dit is baie makliker om potjies kruie by jou tuinsentrum te koop en hulle dan oor te plant in groter potte.

6. Weerstaan die versoeking om meer as een plant in ‘n klein houer te plant. Netsoos die meeste mense hou kruie van ‘n bietjie ruimte om hulle, en is hulle ook nie op hul gemak in wild vreemde geselskap nie.

7. Maak die kruie gereeld nat, maar pasop vir te veel water. Kruie haat nat voete. Moet hulle ook nie laat uitdroog en verlep nie. Jy moet ‘n balans handhaaf. Druk jou vinger in die potgrond tot by die eerste kneukel. As die potgrond droog voel, gee die plantjie water. As die potgrond nog klam voel, wag tot die volgende dag, en toets weer.

8. Koop ‘n goeie kwaliteit organiese kunsmis en bemes jou kruie op ‘n gereelde basis. Kruie in potte verkies ‘n laer dosis – ongeveer die helfte van die aanbevole dosis – een keer ‘n week. Die voedingstowwe in ‘n water oplosbare kunsmis is makliker “verteerbaar” vir plante, en dit spaar tyd want jy kan jou plantjies kos gee saam met hulle water.

9. Gebruik jou kruie so veel as moontlik en snoei hulle gereeld. Dit moedig nuwe groei aan wat beteken dat jy meer het om te oes.

Ondervind jy probleme met die plant van kruie in potte? Vra gerus hieronder.

This article is also available in English.

Share the love of herbs! Use your favourite social network buttons to share this page with your family and friends.

Comments

  1. Karlien Nel says:

    Watter van die manjefieke sewe kan mens binneshuis kweek? Hoeveel son is nodig of is ‘n vertrek met baie lig voldoende?is elektriese lig goed of sleg vir mens se potplante?Enige ander raad om kruie suksesvol in die huis te kweek? Baie dankie!

    • Jy kan almal binneshuis kweek Karlien. Maar hulle het almal ‘n bietjie sonlig nodig. Gee hulle liefde, water en kossies en hulle sal jou baie plesier verskaf.

  2. Hester Hattingh says:

    Nuut op die blad en baie opgewonde om te begin kruie plant. Ons woon in ‘n natuurreservaat en kan nie die kruie in die tuin plant nie want die bokke eet alles, daarom wil ek raag op my stoep, wat baie groot is, kruieplantjies in potte begin plant. Party sal vol son en ander gedeeltelik son. Ek wil sommer plantjies by die kwekery aanskaf, Is Augustus die regte tyd om te plant? Ek sal jul wenke op die blad noukeurig volg! Groete Hester Hattingh

  3. Christa Appelcryn says:

    Heerlik om die webblad te ontdek. Het ‘n passie vir kruie en gebruik dit baie in my kos aangesien dit so ‘n groot verskil maak aan die smaak van die disse. Drink ook baie tee gemaak van ‘n verskeidenheid kruie. Het nog nooit my eie kruie tuin gehad nie en beplan om jul raad te volg om dit in potte te plant en dan gereeld vars kruie byderhand te hê. Dankie vir die interessante inligting.

  4. Minlé van der Merwe says:

    Hallo.
    Ek is baie nuut in die kruie wereld en is baie opgewonde oor my nuut-gevonde stokperdjie.
    Dit is lekker om te lees wat almal se probleme is, want daaruit kan ek net leer.
    Di-Di ek het sulke stack-a-pot potte gekoop en my kruie in elk bakkie geplant. Is daar kruie wat dalk nie van ander kruie hou nie?
    Groete
    Minlé

  5. eugene horn says:

    Ek het by ons plaaslike kwekery gesien hulle plant kruie in afgesnyde geute. Ek het dit ook gedoen maar my kruie wil niks weet van groei nie. Is dit dalk te vlak grond vir kruie of is dit omdat die geute nie gaatjies onderaan het nie. Groete

    • Hi Eugene,
      Die vlak grond is nie ideaal nie, maar dit sal werk. Dreinering is baie belangrik. Kruie hou nie van nat voete nie. Jy kan of gaatjies boor, of jy kan die geut se een punt effens laer laat hang en die punt ook oopmaak sodat die oortollige water daar kan uitloop. Omrede daar so min grond in die geut is gaan die voedingstowwe ook baie vinniger uitloog. Jy sal dus bietjie meer gereeld bemesting moet gee.
      Groete daar.

  6. Petra Schmidt says:

    Goeie middag Di-Di

    Ek het ‘n probleem met klein swart luisies op al my kruie. Wil nie graag die gewone gifstowwe gebruik nie. Het ook al ‘n oplossing van Sunlight Liquid gemeng met water gebruik, maar luise duik altyd weer op. Wat kan ek andersins gebruik om luise te beheer?

    Groete.

    Petra

    • Hi Petra, Probeer een van die nuwerwetse omgewingsvriendelike spuitmiddels. Daar is baie om van te kies. Jou tuinsentrum sal kan help met ‘n aanbeveling.

  7. Wil graag n praatjie lewer oor kruie kweek. Benodig asb inligting. Manjefieke sewe,hoe plant ek dit, steggies,saad, lopers ens., en seisoen.

    Ook asb medisinale gebruike of iets interessants daaroor.

    Baie dankie
    Groete

    Sarie

  8. Anna Nel says:

    Ek verloor aanmekaar my laventelplante. Wat doen ek verkeerd? Groete!

  9. Baie dankie vir goeie raad ek het gemengde kruie saad in pot gesaai plantjies nog baie klein (so 2 blaartjies) sal seker moet wag tot hulle groter is voordat ek uitplant vir meer spasie geniet julle dag

    • Dis altyd so lekker as die kruieplantjies net begin opkom. Veral die gemengde pakkies want hulle voel soos ‘n “Lucky Packet” van ouds. Geniet die Bernice.

Speak Your Mind